Leer van die Meester
Kyk en bestudeer die Natuur
Cato Meaker oorlede

 

 

Een van Boland Bonsai Kai se geliefde lede is gister op 88 oorlede.

Cato Meaker sal altyd onthou word vir haar smaakvolle uitrustings en joviale persoonlikheid. Ons medelye ook aan Pietman Retief, haar skoonseun en een van ons gerekende klublede.

Meaker is op 25 Januarie 1926 as Cato Sauer op die plaas Uitkyk gebore as die oudste dogter van oudminister Paul Sauer en sy vrou, Elsabé, wat diep spore in die politieke sowel as kultuurlewe van Kaapstad en die Boland nagelaat het.

Sy was ‘n legendariese fondsinsamelaar, kunsliefhebber en het formidabele verjaarsdagpartytjies gehou.

Ek onthou haar veral op ‘n bonsai-uitstappie in George so ‘n paar jaar gelede.

Sy het in ‘n pragtige jas saam met my deur die kwekery gestap.

Met haar kierie het sy my nogal heelwat boompies laat uitsoek en in  die karretjie laai.

Aangesien sy toe al in die tagtigs was, was ek verstom oor haar toekomsverwagtings aangesien ons almal weet hoe lank ‘n boompie neem om te ontwikkel.

Op my versigtige vraag het sy geantwoord dis vir Pietman en ek moenie dink sy kan hulle nie eers goed ontwikkel voor hy dit kry nie!

Dit was vir my tog so lekker as sy Saterdae ons vergaderings nog kon bywoon en altyd vir my ‘n lekker brokkie nuus gebring het.

Ons plant ‘n boompie in haar naam.

 

-          Willem Pretorius.


COPYRIGHT (C) 2012, BOLAND BONSAI KAI. ALL RIGHT RESERVED  Powered by Okkie van der Merwe