Leer van die Meester
Kyk en bestudeer die Natuur
  Gallery Crespi
Kliek op foto om te vergroot
Willem Pretorius en Susanna Crespi
     

Willem Pretorius

 

Die springbok word elke dag in Afrika wakker met die vrees dat hy doodgemaak kan word as hy nie vinnig genoeg is nie.

Die leeu weer word elke dag wakker met die vrees dat hý van die honger kan doodgaan as hy nie vinnig genoeg is nie.

En die bonsai-kunstenaar? Hy word wakker met die vrees  dat hy ­– ver van die hoofstroom van die kuns ­– hom in ‘n Sahara van die gees gestrand kan bevind.

Dit is nie genoeg om foto’s van asemrowende bonsai in die Crespi Museum in Milaan in Italië te sien nie. ‘n Mens smag om die  skoonheid te ervaar van wat Luigi Crespi daar vermag het soos ‘n woestyn na  reën hunker.

Ek kom van Tsumeb in die noorde van Namibië. Een keer ‘n jaar word die Omaramba – ‘n droë rivierbedding die grootste gedeelte van die jaar ­– ‘n bruisende stroom waarin jy selfs kan hengel.

Dit trek swerms voëls en wilde diere van oral in die streek. Wat meesal ‘n strook sand is, word dan ‘n lewende stroom wat ‘n klomp goed voed wat vir die res van die jaar daarop oorleef.

Ek glo die Crespi Bonsai Skou in Milaan kan soos die Omaramba wees…….

Einde.

Bostaande was my inskrywing vir die Crespi VIP-kompetisie waarvan ek in Bonsai Focus gelees het. Ek was in ekstase toe die redakteur van die tydskrif, Farrand Bloch, my in kennis stel dat ek die wenner van die kompetisie was.

En hoe waar het my storie toe nie uitgedraai nie!

Ek is terug in Suid-Afrika met ‘n energie-inspuiting van al die merkwaardige bome en bonsai-kunstenaars  wat hulle vaardighede in werkwinkels getoon. Mense van oor die hele wêreld het dit bygewoon, maar stel jou voor om ‘n werkwinkel van 2100 tot middernag by ‘n meester te hê…. In van die werkwinkels was on skaars tien mense.

Vir Europeërs is dit sekerlik redelik alledaags om die beste bonsai op skoue te sien, maar stel jouself ‘n outjie van Namibië aan die suidpunt van Afrika voor wat saam met Suzanna Crespi onder ‘n 1 000 jarige Vyeboom in die museum sit. My mond het oopgehang. Soms was dit net te veel vir my en het ek weggeglip om voor een van die mooiste bonsai-woude in die tuin tot verhaal te kom.

Daar was uitsonderlike oomblikke waar ek die maestros soos Takeo Kawabe, Chuangang Liu, Jiuwel Huang en Edoardo Rossi kon sien werk. Al die verskillende style en tegniese vermoëns was asemrowend.

Hoewel die vlug 18 uur lank was, was ek nooit moeg nie. Die bonsai op die skou self kan net met foto’s tot hul reg kom en ek sal later ‘n geleentheid soek daarvoor. Om van die suiseki nie eens te praat nie.

Die Italianers kan – soos by die modeweek wat terselfdertyd aan die gang was – kreatief wees. Die Crespi-pryswenners was uitsonderlik, die uitstallings inspirerend, die keramiekbakke vol verrassings en daar was spesies wat ek nog nooit eens van gehoor het nie.

Die grand finale was ‘n kragtoer waar Kawabe van Japan aan ‘n 600 jarige juniper gewerk het, langs Liu en Huang van China wat ‘n penjing geskep het asook ‘n windverwaaide boom wat goed sou staan in die Kaap van Storms.

Dit was nie ‘n kompetisie nie maar eerder ‘n vertoning van die verskillende style van bonsai. Iets soos die verskillende maniere waarop verskillende kulture oor die wêreld koskook. Soms wil ons soos die Franse kook, soms soos die Spanjaarde en soms met ‘n bietjie Asiatiese “fusion”.

Dit was ‘n voorreg om te sien hoe al die style onder een groot bonsai-sambreel inpas en om dit eerstehands te kon ervaar.

Op die einde het my inskrywing vir die kompetisie waar geword. Ek is gevoed deur ‘n stroom van idees oor die wêreld wat by die Crespi-skou saamgevloei het en my vir ‘n lang ruk sal voed. (Al lyk my eie bome nou erg minderwaardig vir my….)

Baie dankie!


COPYRIGHT (C) 2012, BOLAND BONSAI KAI. ALL RIGHT RESERVED  Powered by Okkie van der Merwe